Boodskap Bord

Hoe beskryf mens tannie Annette?
Sy was totaal en al UNIEK & “authentic”. Tegnies was sy eintlik selfs ‘n tipe persoonlikheid. As iemand se “jy is ‘n ANNETTE” gaan die meeste vandag hier weet presies hoe die persoon is.
Vir ons kinders was sy ons ander ma. Die een wat byna al ons geleenthede as kinders bygewoon het, en as tannie Annette by jou opvoering of byeenkoms was, was jou dag gemaak! En toggie, maar kon ons oor ons mooi tannie “brag” – veral ek by ballet klasse. En na ons ma se dood was tannie Annette ons “link” na ma.
Die wat my ma geken het, sal weet die 2 jongste sussies was soos “two peas in a pot”. So dieselfde in persoonlikhede, “looks” en streke, en tegnies bietjie stroom-op as ander stroom-af gaan. Apart het hulle mekaar ge”boost” en kon ook lekker baklei… maar die vet weet, as die 2 saam konkel staan jy nie ‘n kat se kans nie… Jy gaan nie wen nie – daai 2 sit jy nie ore aan nie. Inteendeel.
As kind het ek altyd gewonder hoe die ouer 2 sussies die jonger 2 hanteer het. Hulle moes (en is) sterk en het hare op hulle tande gehad! En as die 4 saam staan, kan jy maar gaan sit. Dis “tickets” met jou.
My gunsteling poets wat my ma met tannie Annette gebak het was toe sy haar apteek toe stuur om “husse met lang ore” te gaan koop. DOT. DOT. DOT.
Tannie Annette se maniertjies sal altyd onthou word!
…Haar liefde & totale guns met plante;
…Haar liefde vir kuns, kwekerye en museums (sy het my ook na my eerste kuns uitstelling gevat – sonder om voor die tyd te lees waaroor dit gaan… ons het maar binne apart die kuns besigtig);
…Haar liefde en sagte hart as dit by diere kom en interessante name;
…Haar liefde vir tee en REGTE Lemon Creams;
…Haar manier van ‘n storie vertel… of altans, sy vertel nie ‘n storie nie, sy leef hom… en jy ervaar elke oomblik, gevoel, kleur en geur saam met haar.
Haar grootste nalatenskap in ons kinders se lewens is die fantasie wêreld wat sy vir ons geskep en mee gelos het. Ouderdom was net ‘n nommer gewees en jy was nooit te jonk vir “groter” kinderstories nie. Ek onthou die tranedal toe sy my vat om “Watershop Down” te gaan kyk. Ek het nie eers daai tyd geweet jy kan huil in flieks nie… en toe sy my die fliek “The Witches” van Roald Dahl wys… ek was vir weke lank bang en het geen vriendelike ou tannie vertrou nie. Vir tannie Annette was dit towerspelagtig en heel normaal.
Haar liefde vir stories en boeke het gemaak dat ons kinders ‘n baie ryk verbeelding het! Haar geskenke was nooit normale kinder geskenke nie… dit was pure fantasie! Lappoppe en speelgoed wat karakter het; Vlinders uit glas; Boeke oor kabouters en feetjies… Beatrix Potter, Roald Dahl & Grimm (die regte ware Jakob Grimm stories).
En sy het nie by ons gestop nie! Michael en Stiaan (Anton se 2 “gevreetjies” – haar woorde) se eerste Bybel is van haar af; sy het die Roald Dahl reeks vir hulle begin; en hulle gunsteling storie boek is die Nimmer-Immer-Groen-Bos. Hulle noem dit hulle “magical” boeke.
Toe Michael hoor tannie Annette is dood was sy hartjie baie seer en het hy gese dat hy ‘n ouma verloor het. Die 2 seuntjies was baie baie lief vir tannie Annette en het kort-kort gevra wanneer kan hulle gaan kuier. Maandag aand wou Stiaan met alle mag by tannie Annette gaan kuier het.
Ons gaan tannie Annette baie mis en gaan haar onthou!
Ons gaan haar onthou…
… vir haar interessante en verassende humor
… haar liefde vir sokkies dra
… haar diplomatiese eerlikheid
… haar liefde vir Badabas badgoed & interessante kos disse
… haar manier van Toasted broodjies maak in die pan
… en haar lag wat, soos Louis beskryf, ‘n kamer vol maak
En ek sal nooit die dag vergeet toe sy hoor sy is swanger nie! Sy het ons kombuis ingestorm gekom, geskree “Ek is swanger!” en ons het op en af gespring en die houtgang afgedans. Nig, jy was haar grootste wens en beste geskenk aan ons almal!
Ons sal haar altyd onthou; haar mis; en die beste maak met die spore wat sy gelos het.
Die Fourie kinders
***
Na meer as 40 jr se vrienskap was daar min wat ons nie van mekaar geweet het nie. Lief en leed jy kon luister. Carla was n hoogtepunt in jou lewe en oor haar kon jy nooit uitgepraat raak nie. Siekte het sy tol geëis maar steets het jy pos gebly en aangehou. Ek sal jou mis.
Kitty
***
Annette was ‘n besonderse mens en ‘n spesiale vriendin.
Jan & Renate
***
Ons het Annette leer ken deur die PHS skoolreunies. Ons het Annette leer ken as 'n stil, maar vriendelik mens met 'n aangename persoonlikheid. Sy was altyd bereid om haar huis oop te stel sodat vriende saam kon kuier. Sy sal 'n groot leemte los in die band wat ou skoolvriende bymekaar gehou het.
Frans en Ingrid du Preez
***
Beste familie van Annette
Ons huishulp Sophie is Pretoria se vetkoek-koningin en het ’n hele paar keer by funksies van Dieter en Annette vetkoek gebak.
Toe ek haar bel met die nuus van Annette se dood sê sy “So mooi, stil vrou maar baie vriendelik. Ek laaik haar so baie!”
Dis ’n mooi opsomming van wie Annette was.
Sterkte.
André en Bessie
***
Liefste Annette, mooiste vrou... wat 'n voorreg om jou te kon ken!
Jou plekkie is leeg maar jy is in ons harte en ons gaan altyd met liefde aan jou dink en jou laggie onthou. Tot ons weer ontmoet.
Piet en Marietjie
***
Hi Anette. Veels te vroeg het jy ons verlaat. Daar was nog so baie om oor te praat. Hoe gaan ek nou jou kombuis gebruik sonder om te vra of te pla. Ons gaan jou geweldig mis, maar jy is nou op n beter plek. Die honde gaan jou mis want aan wie se hand kan hul nou lek.
Elsie en Charl
***
My pad kruis met Annette sin in Desember 1978 op Stellenbosch toe sy soos ’n model aangestap kom aan Dieter se sy as ’n ‘trougas’. Dit neem my maande om die moed bymekaar te skraap om regtig nader te kom aan hierdie mooie, begaafde, komplekse vrou. En watter ryk beloning ontvang ek! Min mense wat ek ken, kan kersvashou by haar fyn aanvoeling vir mens en dier, haar intelligensie tov elke aspek van die lewe, haar vermoeë om ongeag wat ookal oor haar pad kom—en glo my, daar was baie uitdagings, weer en weer die positiewe, die lewegewende raak te sien, aan te gryp en met ‘n diep-deurleefde glimlag aan te stap. Watter wonderlike nalatenskap vir ons elkeen wat die voorreg gehad het om deur Annette in haar lewe verwelkom te word: altyd eg, sonder veroordeling, maar met volle aanvaarding van al ons menslike voorkeure, swakhede, eienaardighede—en telkens ‘n stuk nuwe humor en lewensvreugde saam met haar te kon ontdek.
Annette, ek gaan ons altyd sinvolle, ‘raak’ kontak en eerlike insette mis—maar bo alles jou vrolike laggie!
Isabel Murray (Kirsten)
***
Liewe skoonsus Annette
Hoe word ons nie teruggeruk aarde toe nie, wat maal nie als deur ons gedagtes nie - die kanker, die geweldige rugpyn, die bang wees en dan die voorreg om so baie met jou te kan praat.
En dan na julle die Wonderlikste Kersfees as gesin saam gehad het, kom daar n oproep van Here Jesus om jou te kom haal. In 'n oogwink en jy is saam met Hom in die wonderlikste plek waarna ons almal streef. Die pyn is verby.
Daar is soveel mooi wat jy vir ons agterlaat - die rose, die tuine, jou mooi lag. Carla is 'n goeie voorbeeld van die mooi wat jy los. Dieter wat werklik baie lief is vir jou en jou geweldig mis.
Ons is so baie bevoorregd gewees om deel van jou lewe te kon wees.
Graag wil ek die stukkie wat ek vir haar gestuur het by julle los:
Mag God se Genade sag oor jou reën
God se Liefde jou omvou
Sy Vreugde jou laat jubel
Sy Vrede jou laat ontspan
Sy Blydskap jou beskerm
Sodat elke aanslag van die lewe jou sal laat glimlag met die wete
DIE HERE IS IN BEHEER
Dankie Here Jesus en vandag stuur ek die boodskap vir jou Dieter, Carla en Chris; die Here is in Beheer.
Baie Liefde
Jakkie Fourie
***
Mooi en stylvolle Annette.
Annette met groen vingers en die die geil tuine, haar liefde vir diere, haar pragtige katte. Lag-uit-maag uit Annette. Jongmens vakansies in die wildtuin en Hoedspruit. Langbeen sit op Onrus se stoep. 41 Jaar se kosbare vriendskap. En nou, hierdie enorme leemte in ons kringetjie wat nooit weer heel kan raak nie.
Lief jou vir altyd.
Adrie en Hannelie
***
Op 'n afstand, en deur my oë
sien ek jou sit op jou plek
tussen jou honde en katte
daar op jou stoel by die vuur.
Jou hare blond en lippe pienk,
vrou van min woorde
en baie meer luister.
Vinnig met 'n laggie,
'n fyn oor vir 'n subtiele grap.
Buite op die rottangbank
Ook met jou honde en jou mense
bring jy 'n rustigheid en kalm,
styl en stemmigheid.
Nou is jy nie meer hier nie - of is jy?
Tinus & Maricia - Gedig deur Tinus